Tydloos


​Tyd, jou wondersoete ding. Die konsep van tyd verstom my, ons is so gebonde aan hierdie mensgemaakte konsep dat ons soms heeltemal die klits kwyt raak. Ons bou selfs monumente ter ere van hierdie mensgemaakte uitvindsel. Ek vind myself in die beskuldigde bank en moet erken tyd is my altyd ‘n paar sekondes voor. Ek is ook vasgevang in haastig wees en beperk myself gereeld in my doen en late as gevolg van ‘n gebrek aan tyd. Ek gebruik ook gereeld die frase “sodra ons meer tyd het” en dit is meer as gereeld die begin van subtiel of meer eufimisties “nee” se.
Maar, hoe gereeld is ons nie aan die ontvangkant van tyd wat uithardloop nie? Ek moes onlangs my pa afstaan aan die dood, sy tyd hier tussen ons het bloot uitgehardloop. Sy horlosie het ophou tik, en ek hoop dat waar hy homself nou bevind hy nie meer ‘n polshorlosie hoef te dra nie, en dat tyd vir hom slegs ‘n wêreldse herinnering sal wees. Hy was ‘n wonderlike mens gewees en het die gawe gehad om in sy stilte vir mens baie lesse te leer. Maar die een wat ek op die harde manier geleer het, en dalk wens hy ook kon leer, is dat tyd nie jou vriend is nie. Eerder ‘n stil, sluipende gedierte wat in die donker drentel en stadig maar seker sy wurggreep om jou nek versterk en jou stadig dood wurg. Met jou idealistiese drome om jou hardverdiende pensioengeld en spaargeld te gaan gebruik op uitspattige wêreldreise of dalk die erf te koop in ‘n vêraf kus dorpie aan skerwe, besef ek tyd het geen benul van hierdie drome nie.

Tyd het vir my ook uitgehardloop en ek kon nie betyds by my pa se sterfbed opdaag vir die laaste totsiens nie. Ek moes tevrede wees met ons lááste totsiens. Hierdie totsiens was wel voldoende en ek was bewus van die feit dat ek my pa nooit weer gaan sien as die gesonde man wat hy was nie. Tyd het sy een guns bewys en vir ons die realiteit geskep van totsiens sê vir drie jaar lank. In hierdie tyd kon ons baie foute uit ons verlede uitwis en mekaar daardie laaste keer groet met deernis en liefde.

Jy kan besluit om saam te handel in hierdie mensgemaakte slawerny van gebonde wees aan tyd. Of besluit om tyd te benut as lewensmiddel, maar nooit dit toelaat om sweep in die hand jou neerbukkend vasgepen aan kettings te hou wat jou doen en late beperk nie. Gaan op daardie uitspattige wêreldreis, voor jou heup ingee of jou kniëe nie meer hulself teen berge op ‘n pelgrimstog kan uitdra nie. Sê ordentlik totsiens, vergeet van “as ons weer tyd het”, vergeet van “ek is te besig”. En onthou êrens gaan jou polshorlosie ook ophou tik… 

Monument Tyd, erens in Kolkata Indie geneem met my slimfoon terwyl ek by die venster uitleen van een van die befaamde geel taxis wat in Kolkata rond rits.

Advertisements