Elegie aan my erf regte as boerseun. 

Hoe stel mens dié saggies, die afsterwe van iemand is mos maar ‘n traumatiese ervaring. En meestal ‘n skok op die sisteem. Jou fondasies word geskud en jou ankertoue skiet los met ‘n hengse geknal. Totale chaos en seile aan flarde. Effe verward en in wanbelans moet jy nou jou voete vind en vertroosting soek op nuwe plekke. 

Met my onlangse ekskursie in ‘n baie ouer wêreld as die een waarin ons, onsself in Afrika bevind, kulture wat die voortrekkers soos kleuters laat lyk en Jan van Riebeeck soos ‘n jong tiener, besef ek… MY menswees, kultuur en idealistiese bestaan is dood! 

Ou mans in kakie klere droom van ‘n wit Afrika met ‘n John Deere trekker, Jack Russel, bottel Klipdrift, groot plaas en werkers wat hard werk, gebuk onder die sweep en minimum vergoeding. Jy gee mos ‘n sak meel en hoender ingewande elke maand om jou gewete te sis. Jong seuns met hulle Polo’s , John Deere stickers en pette, bottels Klipdrift en stadsgejaag droom óók oor hierdie wit Afrika met sy gunsteling sê-ding, “noem my sommer Baas”. “Pampoen” blêr oor die draadloos en die hoofstroom media verkondig nuwe Afrikaner leiers wat met hul patetiese verlede die ampsdraers is van ons (lees hier eerder JOU) kultuur. Sms-lyne en donasiesentrums word gestig vir die ryk middelklas persoon wat agter uitgaan omdat hy homself steeds isoleer en verhewe hou bo die meerderheid bevolking van hierdie kontinent. Op sosiale media deel jy die vier kleur vir reën, want jou god sal reën op jou plaas laat val, behoede hom net as hy dit waag om op die BEE boerplaas ook reën te laat val! Kruip ons rassistiese opmerkings en leefstyl lekker weg agter korrupsie en agter uitgang. 

Ek besef dat my kultuur meer as net dít is! Moet ek nou koebaai sê vir Ouma se vars gebakte beskuit, biltong, boerewors, braai, rugby op Loftus en die lieflike taal waarin ek hier gal braak? Vrae soos, “mag ek nog simpatiseer met slagoffers van plaas aanvalle?”, “mag ek nog die leiers van my land kritiseer?”, “mag ek nog vellies dra en hou van die bosveld wegbreek-naweek met my Venter waentjie aangehak?” Staan ek hier voor ‘n keuse wat my in net een van twee kampe kan plaas, en indien ek nie kies nie, maak dit my die figuurlike draadsitter of hanskakie van ouds. Die gras lyk nie juis groen aan een van die kante van hierdie sosiale oorlog nie, maar die bevolking aan beide kante groot. 

Of, sal ek stroom-op swem en in die kraal gaan staan waar almal van ons gelyk is ongegag jou velkleur, bank balans of hoeveel keer ‘n week jy stort. Sal ek hier dalk ‘n nuwe kultuur ervaar waar liefde aan die orde van die dag is, waar die swart seuntjie maar aan my kan hang en ek liefdevol sy klimraam is. Waar die begin van gesprekke nie begin met “ek is nie ‘n rassis nie maar…”  Waar mens wit petrol joggies sien en swart middelkas mense wat die ou wit tannie by die verkeerslig ‘n groen tien rand noot in die hand stop. Waar my rasta vriend met die groot glimlag en gaar skoene ’n blyplek kan bekostig. Waar my buitelandse huishulp, met hoë intellektuele vermoëns, se planne vir ‘n beter lewe, nie geknie halter word want sy is etnies swart maar op haar paspoort staan nie ZAR nie. Waar die wit oom en tannie in vrede met oop deure in die aand kan gaan slaap EN hoofstroom kerke hul deure eerder sál oopmaak oor alle taal-  en vel grense. Waar ons nie vas klou aan afgewaterde kulture en ou gelowe nie, maar saam werk aan ‘n groen, florerende Afrika waar ons liefde vir lag en omgee die toonaangewende middel is vir ons bestaan. 

O, wag, ek het vergeet van ingelegde perskes! Wonder of ek moet afskeid neem van dit ook…

Tydloos


​Tyd, jou wondersoete ding. Die konsep van tyd verstom my, ons is so gebonde aan hierdie mensgemaakte konsep dat ons soms heeltemal die klits kwyt raak. Ons bou selfs monumente ter ere van hierdie mensgemaakte uitvindsel. Ek vind myself in die beskuldigde bank en moet erken tyd is my altyd ‘n paar sekondes voor. Ek is ook vasgevang in haastig wees en beperk myself gereeld in my doen en late as gevolg van ‘n gebrek aan tyd. Ek gebruik ook gereeld die frase “sodra ons meer tyd het” en dit is meer as gereeld die begin van subtiel of meer eufimisties “nee” se.
Maar, hoe gereeld is ons nie aan die ontvangkant van tyd wat uithardloop nie? Ek moes onlangs my pa afstaan aan die dood, sy tyd hier tussen ons het bloot uitgehardloop. Sy horlosie het ophou tik, en ek hoop dat waar hy homself nou bevind hy nie meer ‘n polshorlosie hoef te dra nie, en dat tyd vir hom slegs ‘n wêreldse herinnering sal wees. Hy was ‘n wonderlike mens gewees en het die gawe gehad om in sy stilte vir mens baie lesse te leer. Maar die een wat ek op die harde manier geleer het, en dalk wens hy ook kon leer, is dat tyd nie jou vriend is nie. Eerder ‘n stil, sluipende gedierte wat in die donker drentel en stadig maar seker sy wurggreep om jou nek versterk en jou stadig dood wurg. Met jou idealistiese drome om jou hardverdiende pensioengeld en spaargeld te gaan gebruik op uitspattige wêreldreise of dalk die erf te koop in ‘n vêraf kus dorpie aan skerwe, besef ek tyd het geen benul van hierdie drome nie.

Tyd het vir my ook uitgehardloop en ek kon nie betyds by my pa se sterfbed opdaag vir die laaste totsiens nie. Ek moes tevrede wees met ons lááste totsiens. Hierdie totsiens was wel voldoende en ek was bewus van die feit dat ek my pa nooit weer gaan sien as die gesonde man wat hy was nie. Tyd het sy een guns bewys en vir ons die realiteit geskep van totsiens sê vir drie jaar lank. In hierdie tyd kon ons baie foute uit ons verlede uitwis en mekaar daardie laaste keer groet met deernis en liefde.

Jy kan besluit om saam te handel in hierdie mensgemaakte slawerny van gebonde wees aan tyd. Of besluit om tyd te benut as lewensmiddel, maar nooit dit toelaat om sweep in die hand jou neerbukkend vasgepen aan kettings te hou wat jou doen en late beperk nie. Gaan op daardie uitspattige wêreldreis, voor jou heup ingee of jou kniëe nie meer hulself teen berge op ‘n pelgrimstog kan uitdra nie. Sê ordentlik totsiens, vergeet van “as ons weer tyd het”, vergeet van “ek is te besig”. En onthou êrens gaan jou polshorlosie ook ophou tik… 

Monument Tyd, erens in Kolkata Indie geneem met my slimfoon terwyl ek by die venster uitleen van een van die befaamde geel taxis wat in Kolkata rond rits.

CEO sleep out.

Ek wonder by myself, as ek nóú verby Mandela brug in Johannesburg moet ry, of ek Free WiFi gaan opvang, of dalk ook een van daardie warm koppies koffie sal kan kry? Of was dit net beskore vir die CEO? Ek wonder ook wat nou gaan word van die hawelose wese, hoe moet hy die WiFi geniet sonder ‘n slimfoon? Het die polisieman en die hawelose nou ‘n buurtwag sisteem soos in ons middelklas buurte of was dit ook maar net vir een aand?

As ek aan hierdie veldtog dink besef ek dit was nie nét sleg nie, ten minste het hulle geslaag om ons bewus te maak van die haweloses. Maar toe gaan voeter hulle dit op en skets ‘n prentjie van weelde, warm komberse en snoesige slaap kwartiere met die polisieman wat besorgd oor hom waak vir slegs R160 000 per nag. Dit is nogals in sterk kontras met die ou wat elke aand nie ‘n sent betaal vir sy PEP kombers ,kartondoos matras en ysige, sterlose Afrika-Winternag terwyl die polisieman skitter in sy afwesigheid (ek is bewus van die feit dat hulle dalk elders misdaad voorkom). Hoekom as ek dan nou hierdie prentjie sien van “haweloses” op sosiale media wat weelderig lewe sal ek met oplossings vorendag wil kom vir die regte hawelose.

Ek vind hierin ‘n tendens. Ons vind maniere om betrokke te raak om ons gewete te sis. En ons doen dit orals. Kom ek gee vir die ou op die hoek wat bedel ‘n broodjie, of sê “nee jammer ek het nie kleingeld nie” (ek jok nie, ek het nét note in my beursie). Of wat van ek gee geld vir liefdadigheid om die belastingman te ontduik, ironies dat hierdie fooi wat die CEO betaal presies in daardie maksimum kategorie val en nie ‘n sent meer nie. Of kom ek kry ‘n swart kol op my duim want nou kan ek kla oor my armsalige bestaan, ek het mos my deel gedoen.

Ek sien nêrens op sosiale media dat iemand sy deur oop maak vir die ou op straat, om gou vinnig te kom stort nie.  Ek sien selde dat daar gepraat word oor hoe ons, ons land gaan verbeter. Of wag, kla oor gebrek aan dienslewering is die oplossing vir verbetering. Jy en die ou wat busse brand is dieselfde, albei van julle bereik niks! Jy, meneer die CEO met jou lugverkoelde motor wat verby hordes haweloses gery het oppad brug toe, jy is net so skuldig aan hierdie land se (wat jy noem) ondergang. Jy, met jou swart-kol-op-die-duim narsisistiese selfie, wat aan die wêreld verklaar ek kan nou maar kla! Nee, daardie swart kol op jou duim gee jou geen ander reg as om te glo in ‘n toekoms vir hierdie land waar demokrasie aan die orde van die dag is en nie waar minderheidsgroepe “bevoordeel” word nie. Of waar die massa wegkruip agter demokrasie (lees komunisme) nie. Daardie swart kol beteken ‘n land wat werklik ‘n plek is vir almal, met sy  stukkie geskiedenis om te koester soos hy sou wou.

Swart kersvader 

Foto krediet “google”

Kom ons moer gou die appeltrok om!  Kom ons maak Kersvader swart, Barbie en Ken sommer ook. Hulle bly in ‘n sinkhuis in Soweto en ry taxi. Wat van ons vat dit so stappie verder en maak al die kassiere by Pick n Pay wit en die kliënte swart. Dink jy daar sou dan op plakkate wêreldwyd verkondig word “White lives matter”?

Skokkend om te dink hierdie gaan jou nie eers in die minste ongemaklik laat nie, want sien ons is mos nie rassiste nie. Nee ons het nie ‘n probleem met blacky wat vir homself werk en boonop hard werk ook nie, maar is daar plek aan jou tafel tydens aandete vir hom? Sien, ek stem saam ons is nie so seer rassiste as wat ander wil voorgee ons is nie.  Nee, ons het nie regtig ‘n probleem met iemand anders se velkleur nie, dis my eie velkleur waar die probleem inkom. Ek verafgod hierdie vel van my só dat enigeiets anders as dit van nature benede my moet wees! 

Ek ry Saterdag terug huis toe verby ‘n groep mense wat bemarking doen vir hul politiese party, en ek sien hoe hulle doelbewus net sekere mense benader. Ek stop en begin bietjie vra vrae oor hul beweging. Hoekom hul pamflette net in Afrikaans is? Hoekom is hulle teikenmark slegs blankes? Die antwoord wat ek kry walg my. “Ons is nie rassisties nie maar baklei vir minderheidsgroepe” word in my keel afgedruk. Ek wonder hoe lyk hierdie minderheidsgroep waarvan hulle my vertel?  Is dit die minderheidsgroep in hul Fortuners wat een maal ‘n jaar komberse bymekaar maak vir hulle medemens of ook die minderheidsgroep wat in shacks bly? Vir watter kant van hierdie groep veg julle nou eintlik? Waarom sit jy hierdie front op? Haal tog net af jou masker!

Dink jy nie hierdie land van ons kort ‘n kultuur verandering nie? Hoekom raak ons nie patrioties oor hierdie dinamiese diversiteit van mense nie.  Hoekom aanvaar ons nie sommer alles net as vanself sprekend nie?  Is dit omdat jy dan gaan moet ophou om jouself te verafgod? Dis hoekom!  Nie korrupsie nie, nie blacky wat bevoordeel word nie! Jy!!! 

So, kom ons maak vir Dawie Kabouter ‘n coulored, en laat Haasdas se Nuuskas in Zulu plaasvind? Kom ons los vir onsself ook ‘n plekkie onder die son. ‘n Plekkie waar ons kan groei en soveel meer kan word as die swart en wit pengrepe in historiese boeke. Kom ons begin ‘n nuwe getuigskrif vir donker Afrika waarin ek en jy die verskil is wat ons wil sien! 

Skatte jag in Matlala 

Foto krediet ” Terry die Rhodes student wat wil studeer as ander om hom staak”

So waar bly ons nou eintlik? Die afgelope ruk het ek myself tuis gemaak onder ‘n groot Akasia boom net so duskant die teerpad met sewe kilos stofpad tussen my en “beskawing”. Met blou massas water en sonsondergange wat net een Skepper voor verantwoordelik kan wees. Ek het gaan bly tussen die rykstes op aarde. Met tone wat uit peul by skoene en hemde wat vlenters gespeel is op sandvelde, het ek die rykes ontmoet. Glimlagte was aan die orde van die dag en ‘n lemoen kon enige kwaal in die wêreld regmaak, of dit nou ‘n blou kol op die maermerrie of ‘n snotneus was. 
Hier in hierdie wêreld het dit geensins saak gemaak wat jou bankbalans tans is nie, en mens het veel meer rente in liefde verdien as wat ek in ‘n dekade sou maak met my savings pocket by Steve se sonnige bank. Hier het dit nie eers saakgemaak hoe jou vel vertoon het nie , na dag drie was almal in elkgeval ewe bruin as gevolg van die stoflaag wat jou omhels, soos daardie ou vergete agter-tante wat jou vaspen in ‘n stoeigreep as julle mekaar sien by ‘n begrafnis. Sien hier was ons almal maar net mense, mense wat afhanklik was van mekaar. 
Waar is hierdie droomwêreld? ‘n Utopia waarvan ek droom?  Hier in ons agterplaas aan die onderkant van donker Afrika, ja hierdie land van hoop en drome is sommer op jou agterstoep net ver genoeg om buite jou gemaksone te wees. Net-net te wyd dat jy nie op jou agterent sal kan lê en strek  vir dit nie, maar sal moet opstaan en iets doen! Hier gaan jy nie net kan Afrikaans, Engels of Ndebele praat nie. Nee, hier gaan jy emosies en lyftaal moet benut om te kommunikeer. Hier gaan jy jou skoene moet uittrek en bietjie ongemaklik rond dartel terwyl jy nie meer mooi weet wie jy is nie.  Hier gaan die papier dorintjies vir jou raak klits en goed brand. Hier gaan dit iets in jou wakker maak…
Maar heelaas moes ek terugkeer werklikheid toe en be sef ek ons as mens is nog nie reg vir hierdie ideologiese bestaan nie, ons lewe stééds nog te veel net vir onsself. Solank ek eerste by die volgende verkeerslig aankom in my nuwe, blink motor gee ek nie om oor die ou wat vanoggend al drie uur moes opstaan om vir minimum lone in my fabriek te kom werk nie. Of sy vrou en kinders moes agterlaat en êrens onder in gate gaan rondkruip soos die ongure gedoente in die “Hobbit” en “Lord of the Rings” films, om brood en botter op die tafel te sit of ‘n nuwe paar skoene vir sy seuns wat grootskool toe gaan nie.  
Ek sien uit na my volgende kuier saam hierdie rykes wat kaalvoet rond hardloop, onder ‘n boom sit en droom, koeie en bokke aanjaag en Afrika-bier drink want hulle vier fees oor die lewe, terwyl die son sak in die moo iste mengsels van oranje ,bloedrooi en ‘n tikkie silwer! 

Foto krediet “Belinda van der Merwe Photography ”

Foto krediet ” Belinda van der Merwe Photography “

Skiet stilstand in die winkelsentrum. 


Tot in ‘n mate is die seker al holrug gery, maar sien ek sit met die penarie en voel ek moet iets sê. Ons moet praat oor wat gebeur in ons lewens, ons moet praat oor wat plaas vind om ons. En nee ek praat nie van ‘n copy, paste status op Facebook nie. Ek praat van groei rugraat of ‘n paar ertjies en sê hoe jy voel.  Formuleer gedagtes en gee dit vrye teuels, laat dit vry om op een of ander sosiale media network wolk rond te sweef. Amper soos oom Gé Korsten se liedjie van ouds of was dit die Afrikaner bemarkingsveldtog tannie Bridges se liedjie? *wie dit gesing het maak nie juis saak nie, dis om daardie ruiter van die windjie te wees*
Ons stad is gister tot stilstand geruk. Op sosiale media het dit omtrent gegons oor die toestand van ons land. Paniek en chaos was aan die orde van die dag. Die fotos wat versprei is was soortgelyk aan die nuwe trekpleister van ‘n oordeelsdag film wat binnekort uitgereik sou word. Mense het elke liewe post moontlik gedeel met hul volgers sonder om enigsins die bron in ag te neem. Sien ons het oorlog propogeer op Facebook.
Maar toe stap ek by ons plaaslikke winkelsentrum in en die tannie kla nogsteeds oor stadige diens, ek wou net daar op haar skree wat de hel die wêreld is besig om te vergaan en hier is jy bekommerd oor stadige diens. En dit is met hierdie wat ek besef ons is besig om vir ons self te lieg!
Deel jy hierdie gerugte net om so paar ekstra volgelinge op jou sosiale media  profile te kry of gee jy regtig om? Het jy vir een sekonde stil gestaan en die vrou wat agter die toonbank jou help gevra of sy vanaand veilig of enigsins by die huis sal kom? Is haar kinders veilig? Het jy vir haar hulp aan gebied? Het jy daar vir haar gesê sy kan maar daar by jou kom oorbly vanaand? Het jy tenminste gewonder of jy môre haar weer sal sien? 
Of het jy knorrig daar weggestap want sy het stadig jou gehelp, jou sakkies kar toe geneem die karwag dit laat inpak sy vyf rand vir hom gegee en weggery. Het jy toe die volgende paniek bevange slagoffer geraak van sosiale media se beriggewing oor wat in ons land aan gaan, terwyl jy eintlik heel veilig in jou welaf woonbuurt rondry, in jou moderne veldnuts voertuig. Terwyl die vrou by die supermark se enigste vervoer tans verwoes word?
Sien hier is dit wat my vies maak, ons maak onsself so maklik die slagoffer maar is ons regtig?  

Gaan ons aanhou leef in hierdie katoen wol bolletjies waarin alles net met ons sleg gaan, of gaan ons werklik begin uitreik na ander wat dit regtig slegter af as ons het?

                  Sitkom in ons slaapkamer. 


Elke Sondagaand net na kerk transformeer my intieme slaapkamer homself in ‘n sitkamer. Hier kan almal wat vir nog ‘n wyle wil wegkruip vir die wêreld kom sit en die kans is goed dat my dierbare vroutjie vir jou sal koffie maak na ‘n woeste geskimp en sanik van my kant af. Sien, ek’s mal oor koffie, maar dit proe net soveel beter as iemand anders dit vir my maak.

Hierdie sitkamer lok die interessantse wesens, dominees, avonturiers en vriende met verhoudingsprobleme, daag soms ook hier op. En nes enige storie sonder skrip, ontvou hierdie aand gewoonlik in ‘n warboel emosies en gedagtes op. Hier word geen gedagte gesensor nie, geen onderwerp is taboe nie. Teologiese debat word gevoer terwyl iemand onderlangs mymer oor “gay” seks.
Hier word drome gedroom oor reise na veraf lande, terwyl daar gal gebraak word oor die wêreldse gebrek aan omgee en liefde vir mense nie soos ons nie. Sien hier, word die sitkamer weer intiem, want hier word opinies gehoor en soms idiealistiese drome tot op die been oopgevlek. Hier kan jy teug aan die warm koffie en lekker slurp aan die laaste sluk sonder om vreemd aangekyk te word. Hier kan jy jou huis agter los en wegraak saam vriende in ‘n nuwe wêreld waar jy op iemand se bank in ‘n veraf land kan slaap sonder spesiale fooitjies. Hier word daar nie fees gevier oor die massa uitwissing van gays nie. Hier word saam jou gerou oor die verval van menswees. Hier word gedroom oor  môre en die reise wat dit teweë sal bring.
Hier leer ons meer oor mekaar, maar meer as gereeld ontdek jy iets oor jouself ook. Ek vind myself gereeld waar ek lank na ons gaste weg is en die ketel al yskoud staan op die gasstoof,  dink oor die gesprekke van nou net en die impak wat dit op my denke het. Hierdie onlangse gier om te skryf is dalk ook te danke aan hierdie sitcom wat weekliks plaasvind in my slaapkamer.
Indien jy ook so ‘n sitkamer effek wil kweek bêre jou slimfoon na jy hierdie gelees het, nooi vriende (en spesifiek die wat van mening gaan verskil) in jou huis in, sit die ketel aan, oortuig iemand om koffie te maak en hou die gesprek aan die gang met vêr regse onderwerpe as jy moet. Vra die rassis om jou te vertel van sy droomland. Vra die gay ou vir seks tips en hoor by die dominee of dit okey sal wees as jou Indiër vriend ‘n tech-support winkel kan oopmaak in die konsistorie wat nie meer gebruik word nie.