Elegie aan my erf regte as boerseun. 

Hoe stel mens dié saggies, die afsterwe van iemand is mos maar ‘n traumatiese ervaring. En meestal ‘n skok op die sisteem. Jou fondasies word geskud en jou ankertoue skiet los met ‘n hengse geknal. Totale chaos en seile aan flarde. Effe verward en in wanbelans moet jy nou jou voete vind en vertroosting soek op nuwe plekke. 

Met my onlangse ekskursie in ‘n baie ouer wêreld as die een waarin ons, onsself in Afrika bevind, kulture wat die voortrekkers soos kleuters laat lyk en Jan van Riebeeck soos ‘n jong tiener, besef ek… MY menswees, kultuur en idealistiese bestaan is dood! 

Ou mans in kakie klere droom van ‘n wit Afrika met ‘n John Deere trekker, Jack Russel, bottel Klipdrift, groot plaas en werkers wat hard werk, gebuk onder die sweep en minimum vergoeding. Jy gee mos ‘n sak meel en hoender ingewande elke maand om jou gewete te sis. Jong seuns met hulle Polo’s , John Deere stickers en pette, bottels Klipdrift en stadsgejaag droom óók oor hierdie wit Afrika met sy gunsteling sê-ding, “noem my sommer Baas”. “Pampoen” blêr oor die draadloos en die hoofstroom media verkondig nuwe Afrikaner leiers wat met hul patetiese verlede die ampsdraers is van ons (lees hier eerder JOU) kultuur. Sms-lyne en donasiesentrums word gestig vir die ryk middelklas persoon wat agter uitgaan omdat hy homself steeds isoleer en verhewe hou bo die meerderheid bevolking van hierdie kontinent. Op sosiale media deel jy die vier kleur vir reën, want jou god sal reën op jou plaas laat val, behoede hom net as hy dit waag om op die BEE boerplaas ook reën te laat val! Kruip ons rassistiese opmerkings en leefstyl lekker weg agter korrupsie en agter uitgang. 

Ek besef dat my kultuur meer as net dít is! Moet ek nou koebaai sê vir Ouma se vars gebakte beskuit, biltong, boerewors, braai, rugby op Loftus en die lieflike taal waarin ek hier gal braak? Vrae soos, “mag ek nog simpatiseer met slagoffers van plaas aanvalle?”, “mag ek nog die leiers van my land kritiseer?”, “mag ek nog vellies dra en hou van die bosveld wegbreek-naweek met my Venter waentjie aangehak?” Staan ek hier voor ‘n keuse wat my in net een van twee kampe kan plaas, en indien ek nie kies nie, maak dit my die figuurlike draadsitter of hanskakie van ouds. Die gras lyk nie juis groen aan een van die kante van hierdie sosiale oorlog nie, maar die bevolking aan beide kante groot. 

Of, sal ek stroom-op swem en in die kraal gaan staan waar almal van ons gelyk is ongegag jou velkleur, bank balans of hoeveel keer ‘n week jy stort. Sal ek hier dalk ‘n nuwe kultuur ervaar waar liefde aan die orde van die dag is, waar die swart seuntjie maar aan my kan hang en ek liefdevol sy klimraam is. Waar die begin van gesprekke nie begin met “ek is nie ‘n rassis nie maar…”  Waar mens wit petrol joggies sien en swart middelkas mense wat die ou wit tannie by die verkeerslig ‘n groen tien rand noot in die hand stop. Waar my rasta vriend met die groot glimlag en gaar skoene ’n blyplek kan bekostig. Waar my buitelandse huishulp, met hoë intellektuele vermoëns, se planne vir ‘n beter lewe, nie geknie halter word want sy is etnies swart maar op haar paspoort staan nie ZAR nie. Waar die wit oom en tannie in vrede met oop deure in die aand kan gaan slaap EN hoofstroom kerke hul deure eerder sál oopmaak oor alle taal-  en vel grense. Waar ons nie vas klou aan afgewaterde kulture en ou gelowe nie, maar saam werk aan ‘n groen, florerende Afrika waar ons liefde vir lag en omgee die toonaangewende middel is vir ons bestaan. 

O, wag, ek het vergeet van ingelegde perskes! Wonder of ek moet afskeid neem van dit ook…