Prostitusie as beroep. 


Jy, prostituut, ja jy!  Jy, moordenaar, ja jy! Jy, bedrieër, ja jy! Jy, met jou dood normale Afrikaner bloed wat deur jou are druis, trek aan jou regte gewaad. Lafhartig sou ek jou wou noem maar ek sou dalk meer as net ‘n visum benodig om vêr genoeg te kon vlug vir my veiligheid! 

In volksmond is ‘n prostituut iemand wat haar lyf verkoop vir die genot van ander vir geldelike  vergoeding. Wat is jy anders?Jy wat dag in en dag uit jou lyf verkoop vir een of ander groot maatskappy waar jy ekstra ure werk vir finansiële vergoeding? Haar lyf is stukkend, emosioneel is sy dood. Jy is stukkend, emosioneel is jy dood. Tog lewe jy die droom, nuwe kar, gerieflike huis en ‘n kantoor met nagemaakte vars lug.  Terwyl sy bene oop haar siel verkoop, sit jy  bene gekruis in jou gerieflike kantoorstoel, met die agtien grade celsius luggie wat jou koel waai en verkoop jou siel. Jy kyk met afsku na haar as jy laataand na jou laaste bier verby haar ry, maar vergeet gou nes sy, is jy ook mens.  Haat jy ook jou werk, verkoop jy ook jou siel vir die volgende betaal strokie. Verskillende professie, selfde waardes?

Ek wil nou hierdie perd verder bloots ry en jou sommer massa moordenaar ook noem! Jy wat elke oggend en aand met dieselfde droom gaan slaap. Of wag ons sal Maandag begin. Jy wat lag vir die klein kindjie binne jou wat ‘n brandweerman wil word en stilweg hom smoor met kussingsloop, stadig, doelgerig en geluidloos. Tot jy met die dooie uitdrukking in daardie kantoor sit, jy haal gelukkig nog asem maar daardie droom is dood. Wonder hoe sou die ode klink? 

Bedrieër, hanskakie! Jy doen mos die vir die beter van die saak. Wat is die alternatief? Hongersnood, geen nuwe motor vir die volgende tien jaar, geen huis op die oewer van die Vaalrivier of die nuutste slimfoon? Maar is dit werklik wat saak maak? Sonder daardie ekstra ure kan jy dalk nie hierdie bekostig nie, maar hier is wat jy by kry, tyd!  Tyd saam geliefdes, tyd saam bemindes en tyd in regte suurstof! Eintlik pleit ek maar net by jou om nie jou siel te verpand, jou drome te vermoor en jouself te bedrieg nie.   

Die goeie nuus is dat ons almal hierdie prostituut is wat onsself gelukkig kan ag want ons Skepper het al van tevore met ons gemeng.  Het Hy nie met haar gesit en praat nie? Het Hy nie saam moordenaars gehang nie, het Hy nie bedrieërs vergewe nie? 

Hierdie is dalk bietjie lank na die tye toe die Skepper hier saam ons spesie gewandel het, maar ek kan nie help om te wonder wie sou die prostituut gewees het saam wie hy water sou drink as hy vandag hier moes wees nie? 

CEO sleep out.

Ek wonder by myself, as ek nóú verby Mandela brug in Johannesburg moet ry, of ek Free WiFi gaan opvang, of dalk ook een van daardie warm koppies koffie sal kan kry? Of was dit net beskore vir die CEO? Ek wonder ook wat nou gaan word van die hawelose wese, hoe moet hy die WiFi geniet sonder ‘n slimfoon? Het die polisieman en die hawelose nou ‘n buurtwag sisteem soos in ons middelklas buurte of was dit ook maar net vir een aand?

As ek aan hierdie veldtog dink besef ek dit was nie nét sleg nie, ten minste het hulle geslaag om ons bewus te maak van die haweloses. Maar toe gaan voeter hulle dit op en skets ‘n prentjie van weelde, warm komberse en snoesige slaap kwartiere met die polisieman wat besorgd oor hom waak vir slegs R160 000 per nag. Dit is nogals in sterk kontras met die ou wat elke aand nie ‘n sent betaal vir sy PEP kombers ,kartondoos matras en ysige, sterlose Afrika-Winternag terwyl die polisieman skitter in sy afwesigheid (ek is bewus van die feit dat hulle dalk elders misdaad voorkom). Hoekom as ek dan nou hierdie prentjie sien van “haweloses” op sosiale media wat weelderig lewe sal ek met oplossings vorendag wil kom vir die regte hawelose.

Ek vind hierin ‘n tendens. Ons vind maniere om betrokke te raak om ons gewete te sis. En ons doen dit orals. Kom ek gee vir die ou op die hoek wat bedel ‘n broodjie, of sê “nee jammer ek het nie kleingeld nie” (ek jok nie, ek het nét note in my beursie). Of wat van ek gee geld vir liefdadigheid om die belastingman te ontduik, ironies dat hierdie fooi wat die CEO betaal presies in daardie maksimum kategorie val en nie ‘n sent meer nie. Of kom ek kry ‘n swart kol op my duim want nou kan ek kla oor my armsalige bestaan, ek het mos my deel gedoen.

Ek sien nêrens op sosiale media dat iemand sy deur oop maak vir die ou op straat, om gou vinnig te kom stort nie.  Ek sien selde dat daar gepraat word oor hoe ons, ons land gaan verbeter. Of wag, kla oor gebrek aan dienslewering is die oplossing vir verbetering. Jy en die ou wat busse brand is dieselfde, albei van julle bereik niks! Jy, meneer die CEO met jou lugverkoelde motor wat verby hordes haweloses gery het oppad brug toe, jy is net so skuldig aan hierdie land se (wat jy noem) ondergang. Jy, met jou swart-kol-op-die-duim narsisistiese selfie, wat aan die wêreld verklaar ek kan nou maar kla! Nee, daardie swart kol op jou duim gee jou geen ander reg as om te glo in ‘n toekoms vir hierdie land waar demokrasie aan die orde van die dag is en nie waar minderheidsgroepe “bevoordeel” word nie. Of waar die massa wegkruip agter demokrasie (lees komunisme) nie. Daardie swart kol beteken ‘n land wat werklik ‘n plek is vir almal, met sy  stukkie geskiedenis om te koester soos hy sou wou.