Skiet stilstand in die winkelsentrum. 


Tot in ‘n mate is die seker al holrug gery, maar sien ek sit met die penarie en voel ek moet iets sê. Ons moet praat oor wat gebeur in ons lewens, ons moet praat oor wat plaas vind om ons. En nee ek praat nie van ‘n copy, paste status op Facebook nie. Ek praat van groei rugraat of ‘n paar ertjies en sê hoe jy voel.  Formuleer gedagtes en gee dit vrye teuels, laat dit vry om op een of ander sosiale media network wolk rond te sweef. Amper soos oom Gé Korsten se liedjie van ouds of was dit die Afrikaner bemarkingsveldtog tannie Bridges se liedjie? *wie dit gesing het maak nie juis saak nie, dis om daardie ruiter van die windjie te wees*
Ons stad is gister tot stilstand geruk. Op sosiale media het dit omtrent gegons oor die toestand van ons land. Paniek en chaos was aan die orde van die dag. Die fotos wat versprei is was soortgelyk aan die nuwe trekpleister van ‘n oordeelsdag film wat binnekort uitgereik sou word. Mense het elke liewe post moontlik gedeel met hul volgers sonder om enigsins die bron in ag te neem. Sien ons het oorlog propogeer op Facebook.
Maar toe stap ek by ons plaaslikke winkelsentrum in en die tannie kla nogsteeds oor stadige diens, ek wou net daar op haar skree wat de hel die wêreld is besig om te vergaan en hier is jy bekommerd oor stadige diens. En dit is met hierdie wat ek besef ons is besig om vir ons self te lieg!
Deel jy hierdie gerugte net om so paar ekstra volgelinge op jou sosiale media  profile te kry of gee jy regtig om? Het jy vir een sekonde stil gestaan en die vrou wat agter die toonbank jou help gevra of sy vanaand veilig of enigsins by die huis sal kom? Is haar kinders veilig? Het jy vir haar hulp aan gebied? Het jy daar vir haar gesê sy kan maar daar by jou kom oorbly vanaand? Het jy tenminste gewonder of jy môre haar weer sal sien? 
Of het jy knorrig daar weggestap want sy het stadig jou gehelp, jou sakkies kar toe geneem die karwag dit laat inpak sy vyf rand vir hom gegee en weggery. Het jy toe die volgende paniek bevange slagoffer geraak van sosiale media se beriggewing oor wat in ons land aan gaan, terwyl jy eintlik heel veilig in jou welaf woonbuurt rondry, in jou moderne veldnuts voertuig. Terwyl die vrou by die supermark se enigste vervoer tans verwoes word?
Sien hier is dit wat my vies maak, ons maak onsself so maklik die slagoffer maar is ons regtig?  

Gaan ons aanhou leef in hierdie katoen wol bolletjies waarin alles net met ons sleg gaan, of gaan ons werklik begin uitreik na ander wat dit regtig slegter af as ons het?

Advertisements

                  Sitkom in ons slaapkamer. 


Elke Sondagaand net na kerk transformeer my intieme slaapkamer homself in ‘n sitkamer. Hier kan almal wat vir nog ‘n wyle wil wegkruip vir die wêreld kom sit en die kans is goed dat my dierbare vroutjie vir jou sal koffie maak na ‘n woeste geskimp en sanik van my kant af. Sien, ek’s mal oor koffie, maar dit proe net soveel beter as iemand anders dit vir my maak.

Hierdie sitkamer lok die interessantse wesens, dominees, avonturiers en vriende met verhoudingsprobleme, daag soms ook hier op. En nes enige storie sonder skrip, ontvou hierdie aand gewoonlik in ‘n warboel emosies en gedagtes op. Hier word geen gedagte gesensor nie, geen onderwerp is taboe nie. Teologiese debat word gevoer terwyl iemand onderlangs mymer oor “gay” seks.
Hier word drome gedroom oor reise na veraf lande, terwyl daar gal gebraak word oor die wêreldse gebrek aan omgee en liefde vir mense nie soos ons nie. Sien hier, word die sitkamer weer intiem, want hier word opinies gehoor en soms idiealistiese drome tot op die been oopgevlek. Hier kan jy teug aan die warm koffie en lekker slurp aan die laaste sluk sonder om vreemd aangekyk te word. Hier kan jy jou huis agter los en wegraak saam vriende in ‘n nuwe wêreld waar jy op iemand se bank in ‘n veraf land kan slaap sonder spesiale fooitjies. Hier word daar nie fees gevier oor die massa uitwissing van gays nie. Hier word saam jou gerou oor die verval van menswees. Hier word gedroom oor  môre en die reise wat dit teweë sal bring.
Hier leer ons meer oor mekaar, maar meer as gereeld ontdek jy iets oor jouself ook. Ek vind myself gereeld waar ek lank na ons gaste weg is en die ketel al yskoud staan op die gasstoof,  dink oor die gesprekke van nou net en die impak wat dit op my denke het. Hierdie onlangse gier om te skryf is dalk ook te danke aan hierdie sitcom wat weekliks plaasvind in my slaapkamer.
Indien jy ook so ‘n sitkamer effek wil kweek bêre jou slimfoon na jy hierdie gelees het, nooi vriende (en spesifiek die wat van mening gaan verskil) in jou huis in, sit die ketel aan, oortuig iemand om koffie te maak en hou die gesprek aan die gang met vêr regse onderwerpe as jy moet. Vra die rassis om jou te vertel van sy droomland. Vra die gay ou vir seks tips en hoor by die dominee of dit okey sal wees as jou Indiër vriend ‘n tech-support winkel kan oopmaak in die konsistorie wat nie meer gebruik word nie.

Vreemd soos Van Gogh

Vincent Van Gogh se Barmhartige Samaritaan – 1890

Soms moet jy so bietjie vreemd wees soos van Gogh. Maak oop jou hart vir die hoer wat noodgedwonge borsvoed op straat want sy moet werk en kind oppas terselfdertyd.  Of boek jouself in vir ‘n wyle, in ‘n malhuis. Wie weet, dalk gaan jy ook onverwags en onverklaarbaar dood, en in die hiernamaals kan jy die mensdom beloer as een van die stigters van nuwe denke.
Ek word nou die aand bewus gemaak van ‘n kunswerk wat die barmhartige samaritaan uitbeeld, geskilder deur Van Gogh, en dit is opvallend vir my hoe ons in ‘n wêreld lewe waar ek meer as gereeld myself wil uitbeeld as hierdie barmhartige samaritaan.  Wie wil in elk geval nou die hawelose, hulpelose wees wat naak staan en smeek om genade! Hierdie skildery maak iets in my wakker, hierdie skildery maak my wonder hoe Van Gogh dit vandag sou uitbeeld? Sou hy in ‘n Afrika nedersetting dalk ‘n selfie geneem het met sy byderwetse “manbun” haarstyl, nuutste Oakley bril op die kop, met rowwe Afrika af ge-ets in die lens weerkaatsing saam die maer swart kind op sy skoot? En steeds met dit in gedagte, vra ek myself af, wie hier is die Samaritaan en by wie kan ons die meeste van liefdesdade leer? 

Sou jy steeds die samaritaan wil wees, gaan jy meer as jou beursie moet oop maak, bra. Jy gaan jou huis se deure moet oopmaak vir die naak mens wat weke laas gebad het en die wêreld se vuil saam hom dra en net gou iets soek om te eet. Maar meer, jy gee hom sommer ‘n warm stort en slaapplek vir die nag. Jy gaan jou groot-oog kind moet toelaat om vir hierdie oom ‘n drukkie te gee voor hulle gaan slaap. Jy gaan jou eie wese moet deel met die mens. Begryp jy hoe radikaal dit moet wees om so iets aan te vang? Jy sal gestenig word by wyse van woorde, jou bure gaan jou skeef aankyk en heel moontlik dink jy’s die kluts kwyt. En voor jy jou oë uitvee, hardloop die stories rond dat jou vrou dalk buite egtelik iets aangekweek het met hierdie optel mens.  
Maar sien, dis die mens se manier om homself te beskerm teen samaritaan wees. Van Gogh het ‘n prostituut ingeneem en haar jammer gekry, haar gehuisves en sommer binnekort was sy in geskiedenis boeke ingeskryf as sy sekslaaf! Ons verdraai dit sodat dit ons pas en gemaklik is vir ons. Kom ons stenig eerder die uitsonderlike liefdesdaad as wat ons onsself oop maak vir hierdie tipe dade. Die hoer het mos haar lewenskeuses gemaak so hoekom moet ek nou pa staan vir haar kinders?

 
Dalk verdraai ek óók so bietjie hierdie verhaal oor van Gogh om my narratief te pas, of dalk wil ek glo dat een van die wêreld se beroemste skilders dalk meer verstaan het van Jesus-liefde as wat die wêreld wil voorgee, en dít hom tot raserny gedryf het.
Maar vir nou sal ek verkies om die naakte siel te wees wat smeek vir voeding en genade, want ek besef dit is net te veel werk om die samaritaan te wees!